Foto bron: Harties FM
AfriNUUS en Harties FM is opgewonde om ‘n nuwe vennootskap aan te kondig.
Dié twee media-platforms bereik onderskeidelik reeds miljoene Afrikaanssprekendes in hulle eie reg. Deur hande te vat, versterk AfriNUUS en Harties FM die reikwydte van hulle netwerk nóg meer.
“Deur met Harties FM te werk maak ons dit moontlik vir ons lesers om makliker toegang te kry tot ‘n gehalte aanlyn Afrikaanse radiostasie. Vir ons adverteerders beteken dit ook dat ons kan onderhandel vir addisionele blootstelling te danke aan ons verhouding met Harties FM,” verduidelik Emile Opperman, besturende direkteur van AfriNUUS.
Die vennootskap tussen Harties FM en AfriNUUS behels dat beide platforms blootstelling aan mekaar bied. Harties FM gebruik reeds vir ‘n geruime tyd lank vir AfriNUUS om nuusuitsendings saam te stel. Hulle sal nou ook vir AfriNUUS bemark deur middel van advertensies op hulle stasie, webtuiste en sosiale media kanale.
AfriNUUS, aan die ander kant, het vir Harties FM ‘n stroom-knoppie op die AfriNUUS webtuiste geplaas. Dit beteken dat diegene wat op AfriNUUS se webtuiste artikels lees, dadelik Harties FM ook kan stroom.
“Harties FM het onlangs ‘n nuwe toep vrygestel en ons bied vir ons gebruikers ‘n regstreekse nuus-stroom te danke aan AfriNUUS. Ons luisteraars kan dus onmiddelik op hoogte van die nuutste gebeure in die land bly terwyl hulle ons stasie luister via die toep,” verduidelik Dihan Meyer, besturende direkteur van Harties FM.
Beide platforms is gratis beskikbaar aan lesers en luisteraars, wat verder help om ‘n groter gehoor te bereik.