Die eerste vier episodes van Wyfie is nou op Showmax beskikbaar, met twee nuwe episodes wat elke Dinsdag vrygestel word.
Wyfie kom vanuit die veelbekroonde Homebrew Films-stal (Trompoppie, Magda Louw), en volg vier wildvreemde eerstejaar-kamermaats in die Pantera-koshuis aan die fiktiewe Eike-universiteit.
Die regie is deur die Safta-wenner Johan Cronje (Wonderlus, Nêrens, Noord-Kaap) met Beáta Bena Green (Arendsvlei, Die Spreeus) as Shay, Celeste Loots (One Piece, Trompoppie) as Amanda, Kristen Raath (7de Laan) as Kyla en Mienke Ehlers (Dinge van ’n Kind) as Mia.
Beáta is ’n voormalige Mej. Tiener Suid-Afrika (2013) en ’n gunsteling onder sepie-aanhangers sedert sy haar TV-debuut as Kim in die kykNET-telenovela Arendsvlei gemaak het. Sy het ook die rol van Shady in die Afrikaanse sepie 7de Laan vertolk.
Amanda Tremeer-Young het met dié aktrise oor haar dramarol as Shay in Wyfie gesels.
Vertel ons meer oor jou karakter, Shay.
Shay is ’n enigste kind van gemengde ras en sy is deur ’n enkelma grootgemaak. Sy het nooit ’n verhouding met haar pa gehad nie, en soos sy deur die lewe beweeg, probeer sy uitvind wat dit beteken om iemand van gemengde ras te wees wat deur ’n wit ma in ’n baie diverse samelewing grootgemaak is, wat ook sekere verwagtinge van haar het. Sy probeer, op ’n manier, net om haar voete vind.
Sy verken ook haarself en haar seksualiteit. Sy is ’n introvert, ’n dramastudent en ’n digter; sy is lief vir mense, maar sy is ook baie eensaam. Daar gebeur baie in haar kop, en jy sien dít werklik as jy Wyfie kyk. Jy sien dinge nogal uit haar oogpunt uit.
Eggo die storielyne op Wyfie jou eie ervarings op universiteit?
Ek het in die Paarl grootgeword en toe later verhuis na Gordonsbaai, wat in die Helderbergkom is, ook in die Wes-Kaap. Toe is ek na die Universiteit Stellenbosch, wat baie soortgelyk is aan hoe ons Eike uitbeeld, wat die universiteit in Wyfie is.
Maar my ervaring op Stellenbosch was baie anders as Shay s’n. Meestal omdat ek soos een van die ander karakters in die reeks was, Kayla: ’n pliggie. Iemand wat heeltemal toegewy aan hul studies is. Ek was super gefokus, en ek het dít geniet.
In Wyfie, spesifiek met Shay en binne hul groep, het hulle egter baie pret en hulle leef in uiterstes. So dit is beslis ’n universiteitservaring wat ek persoonlik nog nie gehad het nie.
Wyfie praat baie oor verhoudings en vriendskappe tussen vroue. Vertel vir ons meer oor hoe Wyfie daardie tipe verhoudings uitbeeld, en of dit jou aan enige verhoudings in jou eie lewe herinner?
Die verhoudings tussen vroue in Wyfie is verstommend, veral dié onder die jongmense. Baie van die vriendskappe wat ek as karakter ondersoek, boots eintlik die verhoudings na wat ons op stel tussen die akteurs geskep het. Ek put inspirasie daaruit. Dit is werk, maar terselfdertyd is dit ’n totale voorreg, omdat ek met ongelooflike mense werk.
Ek is veral geraak deur die verhoudings wat hulle met hul moederfigure het. Hierdie verhoudings is nogal mooi, want daar is hierdie siklus van vrou-tot-vrou mag en passie wat oor die generasies heen voortduur. My karakter het ’n wonderlike ma en dit is ’n aspek wat ek baie geniet.
Watter soort uitdagings het jy tydens verfilming ervaar?
Ek dink een van die uitdagings tydens verfilming was net om by ’n plek te kom waar jy afstand moet doen van die karakter. Jy word so kwesbaar omdat die karakters so eg is, en daardie rou ervaring word op kamera vasgevang. Dit het dus daaroor gegaan om jouself net toe te laat om na daardie plek te gaan, en eintlik net die vryheid te hê om te speel sonder vrees vir oordeel, want dit is so maklik vir mense om mekaar te oordeel en jy is bang dat mense jou karakter gaan oordeel vir die dinge wat hulle doen. Maar dan moet jy jouself daaraan herinner dat hulle jonk is en dat hulle dinge uitpluis, en die foute wat hulle maak wat op die skerm gaan wees, kan dalk iets wees wat ander mense inspireer om dieselfde te doen – om sonder oordeel te verken.
Hoekom moet mense Wyfie kyk?
Soveel as wat dit pret, mal en vermaaklik is om te kyk, laat dit jou regtig diep in jongmense se gedagtes delf om te verstaan hoekom hulle die dinge doen wat hulle doen wat soms omstrede is. Dit gaan jou help om meegevoel met hulle te hê, en om die gevoel van gemeenskap te kry wat onder mense geskep kan word as hulle in dieselfde ruimte geplaas word. Ek dink ons almal kan iets daaruit leer. So, dit is pret, plesier en opgewondenheid, maar ek glo dit is ook baie inspirerend.
Kyk die lokprent: