Foto bron: Verskaf
Die Stad Johannesburg het onderneem om die Stadsbiblioteek weer oop te maak vir die publiek.
Dit is in 2021 gesluit oor veiligheidbekommernisse. Daar is groeiende oproepe vir die heropening van die grootste biblioteek in die Johannesburgse SSK, met protesoptogte wat die naweek gehou is.
Die metropolitaanse munisipaliteit sê hy het R25 miljoen in die 2024/25-boekjaar begroot as deel van die aanvanklike R45 miljoen wat nodig is om die gebou aan veiligheidsregulasies te laat voldoen. Johannesburg se gemeenskapsontwikkelings-BM, Lubabalo Magwentshu, sê kontrakteurs werk tans aan die soldeer en waterdigting van eksterne geute, en ander werk sal in Julie vanjaar begin om die nodige nakomingskwessies aan te spreek.
Hy sê die huidige fase van die projek sal na verwagting die weg baan vir die gedeeltelike heropening van die biblioteek in die volgende boekjaar. ‘The Friends of the Joburg Libraries’, ‘n Artikel 21-organisasie, ondersteun die Johannesburgse Biblioteekdienste en help om bewustheid te verhoog oor die belangrikheid van biblioteke en hul rol in die gemeenskap.