Foto bron: Verskaf
‘n Sesjarige seun van Lutzville wat frakture aan albei sy bene opgedoen het nadat hy deur ‘n 70-jarige man omgery is, het ‘n suksesvolle operasie ondergaan. Khwezi Jantjies en sy ma, Magdalene, was Vrydagmiddag omstreeks 12:00 op pad in Stationweg in die Weskus-dorpie toe ‘n voertuig met ‘n sleepwa hulle omgery het en oor die kind gery het.
Volgens ‘n emosionele Magdalene het sy en haar seun by die beskuldigde se kleinhoewe verbygestap, oppad om kos te koop, toe Khwezi stilhou om ‘n lemoen op te tel wat op die grond geval het. Hy het probeer om nog ‘n lemoen deur die draad te gryp toe die boer skielik na hulle skree en beweer dat Khwezi vrugte steel. Die bestuurder het vinnig na hulle gery, hulle teen die heining vasgedruk en sy wiele het gespin. Magdalene het aan die kar begin klop en gebid vir hulp.
’n Verbyganger het later gehelp totdat die polisie opgedaag het. Die bejaarde man sal Maandag na die Vredendal-landdroshof terugkeer vir sy borgtogaansoek.