Foto bron: Verskaf
Die 2024-matriekeksamens is Woensdag afgesluit, en baie graad 12-leerders het reeds planne gemaak om die einde van hul skoolloopbaan te vier. Die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, David Maynier, doen egter ’n beroep op matrikulante om verantwoordelik en veilig fees te vier. Hy herinner leerders daaraan om die gevare van drink en bestuur te vermy en hul waardevolle items en drankies dop te hou. Ouers word ook aangemoedig om hul kinders bewus te maak van risiko’s en gereed te wees vir enige noodgevalle.
Maynier het verder aangekondig dat die nasionale matriekuitslae op 13 Januarie 2025 bekend gemaak sal word om die eerste skooldag te akkommodeer. Individuele uitslae sal vanaf 10:00 op 14 Januarie 2025 by skole en op die Wes-Kaap Onderwysdepartement se webwerf beskikbaar wees.