Foto bron: Verskaf
Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParks) doen ’n beroep op toeriste om in hul voertuie te bly wanneer hulle met wilde diere te doen kry. Dit volg ná ’n tragiese voorval op Saterdag by die Krugerwildtuin se Malelane-hek, waar ’n toeris dood is nadat ’n olifant hom aangeval het toe hy uit sy voertuig geklim het.
SANParks het die publiek versoek om te vermy om sensitiewe beeldmateriaal van die voorval aanlyn te deel en het weer die belangrikheid van veiligheid in natuurgebiede beklemtoon. ’n Soortgelyke tragedie het verlede Julie plaasgevind toe ’n Spaanse toeris by die Pilanesberg Natuurreservaat dood is nadat hy uit sy motor geklim het om olifante af te neem.