Foto bron: Verskaf
Eskom het gewaarsku dat beplande instandhoudingsonderbrekings sal voortgaan ter voorbereiding vir die winter. Die kragvoorsiener het Fase 3-beurtkrag Sondagoggend opgeskort nadat meer as 300 megawatt se opwekkingskapasiteit herwin en noodreserwes aangevul is.
Woordvoerder Daphne Mokowena sê pogings om meer kapasiteit te herstel, is aan die gang, met 4 091 megawatt wat teen Maandag weer in diens behoort te wees. Sy voeg by dat hoewel basiskapasiteit steeds beperk is, Eskom se opwekkingsherstelplan hierdie uitdaging aanspreek en beurtkrag grootliks iets van die verlede is weens strukturele verbeterings.