Motlafela Mojapelo, provinsiale polisiewoordvoerder in Limpopo, sê in ‘n verklaring dat ‘n taakspan van speurders van die provinsiale, distriks- en stasievlakke gestig is om ‘n groep onbekende verdagtes op te spoor, nadat ‘n man geskiet en kritiek beseer is.
Daar word beweer dat brandstof ter waarde van miljoene rande gesteel is, tydens ‘n rooftog wat Saterdag by ‘n dieseldepot in Louis Trichardt plaasgevind het.
Daar word beweer dat die bestuurder van die depot, wat diesel in grootmaat verkoop het, die hek oopgemaak het vir ‘n vragmotor wat die perseel binnegekom het onder die voorwendsel om diesel te koop.
Die insittendes van die vragmotor het gewapen met vuurwapens uitgespring en die afstandbeheerder en selfone van die bestuurder afgeneem. In die proses is die bestuurder ook van ’n bedrag kontant beroof.
Die oortreders het hom toe na ‘n ander kamer gedwing en toegesluit. Die ander vier werknemers is van selfone beroof, met kabelbinders vasgebind en in aparte kamers toegesluit.
Tydens die rooftog is ‘n maatskappybestuurder wat in ‘n vragmotor op die perseel gesit het, geskiet en ernstig gewond. Die verdagtes het toe met ses vragmotors ingekom en hulle met diesel ter waarde van R5,5 miljoen volgemaak, voordat hulle weggery het.
Die polisie is ontbied en met hul aankoms op die toneel het hulle die beseerde man van 43 jarige ouderdom aangetref. Hy is na die hospitaal geneem.
Voorlopige polisieondersoeke het aan die lig gebring dat die nommerplaat wat op een van die vragmotors geplaas is, van Gauteng afkomstig is.
Die provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, luitenant-generaal Thembi Hadebe, het die lede van hierdie span opdrag gegee om die betrokke verdagtes op te spoor en aan te kla.
Enigiemand met inligting word versoek om luitenant-kolonel Richard Boshomane by 0798945501 te kontak of die tolvrynommer 0860010111 te skakel.