In ’n stap wat Zimbabwiese parlementariërs geskok het, het die Speaker van die Zimbabwiese parlement, Jacob Mudenda, die parlement verhoed om die Al Jazeera Gold Mafia-kriminele en korrupsiebewerings te ondersoek.
Dit terwyl Suid-Afrika ’n ondersoek van stapel gestuur het na verskeie mense wat moontlik betrokke is by ’n goudsmokkel- en geldwasseryskema wat deur die nuusdiens se ondersoekeenheid ontbloot is.
President Cyril Ramaphosa het in ’n toespraak aan die parlement van Suid-Afrika vandeesweek gesê die ondersoek is in die “ondersoekstadium”.
“Ons is daartoe verbind om die integriteit van ons finansiële stelsel te bewaar in die belang van die breër ekonomie en gewone burgers,” het Ramaphosa Donderdag bygevoeg.
“Besonderhede van die stappe wat geneem word, kan nie in hierdie stadium bekend gemaak word sonder om die ondersoek in gevaar te stel nie,” berig die nuusdiens.
Die ondersoek is die direkte resultaat van Gold Mafia, ’n reeks deur Al Jazeera se Ondersoekeenheid (I-Unit) na goudsmokkelary en geldwassery in Suider-Afrika.
Die sleutelpersoon in hierdie proses was ’n man met die naam Mohamed Khan, wat by die bynaam Mo Dollars gaan.
“Hy word soort van voorgehou as ’n soort skaduagtige figuur wat geldwassery in Suid-Afrika beheer,” het die geldwassery-ondersoeker Paul Holden aan Al Jazeera gesê.
Onder Khan se grootste kliënte was Simon Rudland, ’n Zimbabwiese miljoenêr wat een van die streek se grootste tabakmaatskappye, Gold Leaf Tobacco, besit. Suid-Afrikaanse inkomstebeamptes het Rudland daarvan beskuldig dat hy belasting ontduik deur sy sigarette op die swart mark te verkoop.
Jy kan die reeks hieronder kyk: