John Steenhuisen, DA-leier, het vanoggend regstreeks met landsburgers vanuit Kaapstad gepraat nadat hy ses dae in Oos-Oekraïne spandeer het.
“Dit is ‘n oorlog wat ernstige globale ekonomiese gevolge gaan hê, of jy nou kies om daarin belang te stel of nie,” sê Steenhuisen.
Steenhuisen het, ten spyte van openbare teenkanting oor sy besoek aan die Oekraïne, die twee redes vir sy besoek onomwonde verduidelik.
“Eerstens wou ek self sien wat daar gebeur. Ek wou die verhale van die mense wat deur hierdie nagmerrie leef eerstehands hoor.
“En die tweede rede vir my besoek was om Suid-Afrika te verteenwoordig by die mense van die Oekraïne. Want niemand anders doen dit nie,” meen Steenhuisen.
Steenhuisen meen dat hy aan politieke leiers en die mense van die Oekraïne verduidelik het dat “die ANC-regering nie die belange en morele ondersteuning van Suid-Afrikaners in die Oekraïne verteenwoordig nie, maar eerder hulle eie belange”.
En dit is nie ‘n Oekraïense, of selfs ‘n Europese kwessie nie. Dit is ‘n globale kwessie, meen Steenhuisen.
In die wêreld is die Oekraïne die grootste produsent van sonneblomolie, die derde grootste produsent van mielies en onder die top vyf grootste produsente van koring.
Tussen Rusland en die Oekraïne maak hulle byna ‘n derde van die wêreld se koring en garsuitvoere uit.
Afrika is veral sterk afhanklik van graaninvoere uit hierdie land. Ethiopië is afhanklik van die Oekraïne vir meer as ‘n derde van sy koring.
Een uit elke drie snye brood wat in Afrika en die Midde-Ooste gebak word, word gemaak met koring uit die Oekraïne.
“Ons sien reeds vinnig stygende pryse as gevolg van beperkings op Oekraïense uitvoere deur hawens. Dit gaan baie erger word voordat dit beter sal word. Dit is hoekom dit almal se oorlog is,” meen Steenhuisen.