‘n Werknemer in die kantoor van ANC-hoofsweep en twee ander het vanoggend in die Mbombela-landdroshof vir die “sinnelose moord op Hillary Gardee” verskyn.
Fidel Mlombo van die kantoor van die ANC-hoofsweep in Mpumalanga het bevestig dat die eerste 39-jarige verdagte ‘n werknemer in dié kantoor is.
“As ‘n kantoor en die ANC is ons heeltemal teen die gebeure en distansieer ons onsself van moord op onskuldige mense,” lui ‘n verklaring deur Mlombo.
Dié kantoor veroordeel “die sinnelose moord op Hillary.”
Sipho Lawrence Mkatshwa, Philemon Lukhele en Mduzuzi Gama word aangekla van moord, verkragting, sameswering om moord te pleeg, ontvoering en die besit van ongelisensieerde vuurwapens.
Die staat het versoek dat die beskuldigdes borgtog geweier word weens die erns van die misdaad. Al drie het hul borgtogaansoek laat vaar.
Hulle het mediese hulp versoek en beweer dat hulle tydens aanhouding gemartel is.
Die saak is uitgestel tot 9 Junie.