Die Russiese President Wladimir Poetin het tydens ‘n Oorwinningsdag-parade op Moskou se Rooi Plein Maandag gesê: “Ons sal nooit ons liefde vir die land, geloof, tradisionele waardes, voorvaderlike gebruike en respek vir alle volke en kulture prysgee nie. Wat die Weste betref, blyk dit vasbeslote te wees om hierdie millennia-oue waardes te kanselleer,” het hy opgemerk.
“Hierdie morele agteruitgang het die weg gebaan vir siniese vervalsings van die geskiedenis van die Tweede Wêreldoorlog, pogings om Russofobie aan te blaas, verraaiers te verheerlik, die nagedagtenis van hul slagoffers te bespot en die dapperheid uit te wis van diegene wat vir die Oorwinning geveg en gely het,” het die staatshoof beklemtoon.
Poetin het daarop gewys dat die Verenigde State, veral ná die ineenstorting van die Sowjetunie, “begin het om te praat oor sy uitsonderlikheid, wat nie net vir die hele wêreld vernederend is nie, maar ook vir sy mense wat moet maak asof niemand vir vryheid geveg het nie,” het die Russiese president gesê.
Hy het egter nie ‘n oorlog aangekondig nie, maar bly vasbeslote dat die inval in die Oekraïne ‘n militêre operasie is.
In ander nuus uit Rusland:
- Die Russiese President het op ‘n groot militêre parade in Moskou se Rooi Plein gesê dat troepe in die ooste van die Oekraïne “die moederland verdedig”.
- Die Oekraïne se President, Volodymyr Zelensky, het ook Oorwinningsdag erken en vir Rusland gesê hy kan nie die oorwinning van WW2 toeëien nie. “Ons het toe gewen. Ons sal nou wen,” het hy gesê.
- Die VK se Ministerie van Verdediging sê Rusland is gedwing om verouderde en minder betroubare wapens te gebruik aangesien sy voorraad van ammunisie opraak.
- NAVO Sekretaris-generaal, Jens Stoltenberg, het Oorwinningsdag gebruik om ‘n beroep op Rusland se leier te doen om die oorlog in die Oekraïne onmiddellik te beëindig.