Suid-Afrika het ’n kritieke tekort aan dokters, met die vergelyking van 1 dokter om 3 198 pasiënte te behandel.
In ’n antwoord op ’n parlementêre vraag van die DA het die Minister van Gesondheid, dr. Joe Phaahla, onthul dat die land se dokter-tot-pasiënt-verhouding 1: 3 198 is – dit is 0,31 dokters per 1 000 pasiënte. En, die aantal dokters se getal is steeds aan die afneem.
In 2019 het Suid-Afrika 0,79 dokters per 1 000 pasiënte gehad, wat reeds swak is in vergelyking met die Verenigde Koninkryk (3,03 per 1 000), Indië (0,93 per 1 000), Brasilië (2,32 per 1 000) en Mexiko (2,44 per 1 000).
Hierdie skokkende syfer bly onveranderd, ten spyte van die feit dat daar meer as 21 000 spesialis mediese personeelposte gesamentlik in al nege provinsies vakant is, en wat die nasionale departement van gesondheid glo nog moet vul.
“Die kritieke tekort is geskep deur die onbevoegdheid en korrupsie van die ANC-regering wat blykbaar onwillig is om hierdie ernstige bekommernisse aan te spreek,” sê die DA in ‘n verklaring.
“Trouens, net verlede week het die Gautengse Gesondheidsdepartement versuim om April-salarisse aan 91 dokters en verpleegsters by die Helen Joseph-hospitaal te betaal. Dokters in hul staatsjaar by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal was ook slagoffers van laat betalings.”
“Hoe beoog die ANC-regering om die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV)-projek te bestuur wanneer hulle nie in staat is om die huidige universele gesondheidsorgstelsel in Suid-Afrika te laat werk nie?”
“Voordat die ANC-regering eers aan die NGV kan begin dink, moet hulle die aantal gekwalifiseerde mediese personeel wat in Suid-Afrika se huidige openbare gesondheidsorgsektor werk, vermeerder.”
“R8,8 miljard is reeds aan die NGV toegeken. Hoekom word hierdie geld nie gebruik om die kritieke tekorte aan mediese personeel te verlig nie? Die DA vra dat hierdie fondse herlei moet word na die opleiding en indiensneming van dokters, verpleegkundiges, en die ontwikkeling van verpleegkolleges.”