Adv. Busisiwe Mkhwebane, geskorste openbare beskermer (OB), het op 7 Junie 2022 altesaam 13 vrae aan President Cyril Ramaphosa rakende sy Phala Phala-wildplaasskandaal gestuur.
Die kantoor van die OB het die president versoek om dié vrae binne 14 werksdae te beantwoord. Advokaat Mkhwebane is egter die volgende dag deur President Ramaphosa geskors, alhoewel die kantoor bevestig het dat die direkteur-generaal die ondersoek sal voortsit.
AfriNuus is in besit van dié vertroulike dokument van 11 bladsye wat voor 27 Junie 2022 deur Ramaphosa beantwoord moet word.
Teen 8 Julie 2022 sal die waarnemende OB, Advokaat Kholeka Gcaleka ‘n finale verslag bekendmaak met bevindinge wat sal aandui of President Ramaphosa die Wet op die Etiek van Lede van die Uitvoerende Gesag (EMEA) oortree het.
Voor ons begin – wat is die klagtes?
In die African Transformation Movement (ATM) se klagte wat by die OB ingedien is, het die klaer die OB meegedeel dat daar op 9 Februarie 2020 ‘n diefstal van meer as vier miljoen Amerikaanse dollars op President Ramaphosa se plaas in die Waterberg, Limpopo, deur ‘n groep misdadigers was.
Die klagte beweer verder dat Ramaphosa se huishulp én hy self hierdie misdaad vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en/of Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) weggesteek en daarna die skuldiges vir hul stilswye betaal het.
Nou, wat is die 13 vrae wat Ramaphosa moet beantwoord?
Die Openbare Beskermer het Ramaphosa “vriendelik versoek” om ‘n gedetailleerde antwoord te verskaf op die bewerings wat hieronder genoem word, asook om dokumentasie en/of inligting te voorsien wat ‘n invloed op die ondersoek kan hê:
[Let wel: JY verwys na President Cyril Ramaphosa in die vrae hier onder, terwyl PLAAS na sy Phala Phala-plaas in Limpopo verwys]
1. ‘n Gedetailleerde verklaring wat ‘n verduideliking verskaf oor of jou gedrag teenstrydig was met die Etiese Kode (EMEA), artikel 96 van die Grondwet, of enige ander wetlike verpligting;
2. Dui asseblief aan of jy enige finansiële belange op die plaas in Limpopo het en indien ja, of jy sodanige belange aan die Parlement verklaar het soos vereis deur die Etiese Kode;
3. U word verder versoek om die aard en waarde van enige finansiële belange wat deur u op die plaas as ‘n kommersiële entiteit gehou word, aan te dui;
4. Of die genoemde eiendom (die plaas) aan jou behoort of geregistreer is in jou naam of in die naam van enige van jou maatskappye waarin jy ‘n belang besit. Verduidelik asseblief die aard van hierdie besigheid;
5. Of daar enige kontant ter waarde van miljoene Amerikaanse dollars (meer as vier miljoen Amerikaanse dollars) op jou plaas gestoor was, en indien wel, verduidelik asseblief die volgende:
(a) Die bron van sodanige kontant;
(b) Enige register, kwitansie of ander bewys om die bron van sodanige kontant aan te dui, die aard van die handelstransaksie waaruit dit voortspruit of die doel van sulke kontant;
(c) Die name, vanne en lande van die persone waarmee jy handel gedryf het en wie jy betaal het met die geld in hierdie verband;
(d) Die permitte vir sodanige handeldryf op daardie tydstip en indien enige, heg asseblief ‘n afskrif daarvan aan;
(e) Of sodanige permit of regulasies ‘n afslaer toelaat om harde kontant op die terrein te aanvaar;
(f) Die presiese bedrag in Rande van sodanige ander Buitelandse Valuta en bewys daarvan;
(g) Die datum(s) waarop sodanige kontant by plaas ontvang is en die naam van die persoon/persone wat dit ontvang het;
(h) Die presiese wyse waarop hierdie kontant op die plaas gehou of bewaar is, bv. kluis of meubels;
(i) Die rede(s) waarom die kontant op die plaas gehou of bewaar is en nie by die bank nie;
(j) Hoe lank daardie kontant op die perseel gehou is;
(k) Is die kontant by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) verklaar en indien ja, heg asseblief bewyse aan;
(l) Betaal die plaas belasting soos vereis deur die SAID vir verkope of veiling van enige vee, en indien ja, verskaf asseblief bewyse;
(m) Hou die boerdery op die plaas enige bankrekening en indien ja, verskaf asseblief die naam van die bank en die besonderhede van die bankrekening aan die OB;
6. Of daar op 9 Februarie 2020 ‘n roof en/of diefstal van kontant by die plaas was, en indien wel, hoeveel is gesteel;
7. Of die diefstal of misdaad in verband met hierdie kontant by die SAPD aangemeld is en indien wel, verskaf asseblief die datum waarop die saak aangemeld is, die naam van die polisiestasie waar dit aangemeld is en die MAS/CAS-nommer. Indien nie, verduidelik asseblief hoekom die saak nie by die polisiestasie aangemeld is nie;
8. Of die gesteelde geld teruggevind is of nie, en indien ja:
(a) hoeveel teruggevind is;
(b) wanneer dit teruggevind is;
(c) waar dit teruggevind is;
(d) wie dit teruggekry het;
(e) van wie dit verhaal is; en
(f) of enige persoon/persone ondervra, in hegtenis geneem en/of vir die misdaad aangekla is;
9. U word ook versoek om die OB te verskaf van die naam/name van u huishulp(e) wat ten tyde van die voorval op die genoemde plaas gewerk het, insluitend die een wat op die perseel teenwoordig was op die dag van die beweerde rooftog/diefstal;
10. Duidelikheid of u die hoof van die presidensiële beskermingseenheid, generaal-majoor Wally Rhoode, spesifieke instruksies gegee het oor hoe om hierdie saak te hanteer, sonder om dit by die polisiestasie aan te meld. Indien wel, wat daardie instruksies was en verduidelik asseblief of generaal Rhoode u gereelde opdaterings oor sy ondersoek van hierdie saak gegee het;
11. Enige ander stappe wat jy gevolg het om te verseker dat die beweerde diefstal van kontant deeglik ondersoek word;
12. Enige ander inligting wat jy dalk gepas ag om onder die aandag van die Openbare Beskermer te bring om te help met die spoedige afhandeling van hierdie aangeleentheid.
13. Ons is in die stadium van inligting-insameling van die ondersoek met die oog daarop om die inligting en bewyse wat in die aangeleentheid verkry is te evalueer en sal u nader met ‘n versoek om verdere bystand met betrekking tot onderhoude wat ons beoog om so gou moontlik te hou, indien dit nodig sou wees.
“Ons sal die ontvangs van u antwoord, inligting en dokumentasie op u vroegste gerief waardeer, maar nie later as veertien (14) werksdae na ontvangs van hierdie korrespondensie nie. Dit sal die Openbare Beskermer in staat stel om die ondersoek en verslag af te handel,” lui die brief.
‘n Aparte ondersoek is deur die Valke van stapel gestuur. Bewerings van ontvoering, geldwassery en regsverydeling word ondersoek, sowel as die oortreding van die volgende wette: Income Tax Act, Tax Administration Act en die Currency and Exchanges Act (1933).
Hou AfriNuus se platforms dop vir meer inligting soos die ondersoeke ontvou.