Die 18-jarige student aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat op 18 Mei 2022 in hegtenis geneem is vir beweerde verkragting, en die volgende dag op borgtog van R1 000 vrygelaat is, het weer vanoggend in die Stellenbosch-landdroshof verskyn.
Die aanklagtes teen hom spruit uit ‘n beweerde voorval wat laasmaand by die Majuba-manskoshuis plaasgevind het.
Woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), Eric Ntabazalila, sê dat die beskuldigde se saak tot 1 September 2022 uitgestel is, aangesien daar kringtelevisiebeeldmateriaal uitstaande is.
AfriNuus verneem dat daar kameras in die manskoshuis is wat aandui wat voor en na die beweerde voorval plaasgevind het.
‘n Bron het egter aan AfriNuus bevestig dat die beeldmateriaal reeds aan die polisie oorhandig is. Ten tyde van die beskuldigde se arrestasie moes koshuisleiers glo die beskuldigde se kaste uitpak en na die polisiestasie neem.
Die beskuldigde is hangende die bevindinge van die polisieondersoek en hofbevindinge uit die koshuis en universiteit geskors.
Die beskuldigde se naam mag nie bekendgemaak word totdat hy in die hof pleit nie.
Meer inligting is aan AfriNuus bekend, maar word vir regsredes weerhou.