eNCA het in ‘n regstreekse uitsending gewys hoe die eienaar van die onwettig-opgerigte Enyobeni-taverne nou al die ongemerkte en ander alkohol uit die taverne neem, aangesien die taverne permanent gesluit is en die dranklisensie opgeskort is.
“Dit is nie meer ‘n aktiewe misdaadtoneel wat deur die polisie ondersoek word nie,” sê Aviwe Mtila, eNCA-verslaggewer.
“Nou is die eienaar van die taverne besig om al die alkohol wat oor is uit die perseel te verwyder.”
Donderdag is drie bakkies tydens die uitsending met vragte alkohol van die eiendom verwyder.
Die Oos-Kaapse Drankraad het ‘n strafregtelike klagte teen die eienaar ingedien vir die verkoop van alkohol aan minderjariges, wat teenstrydig met die drankwet is.
In die uitsending lê gebreekte drankbottels steeds op die vloer, sowel as pruike en ander vullis, soos dit agtergelaat is met die aand van die treurspel.
Forensiese deskundiges het die grootste deel van hul ondersoek bestee om monsters vir toetsing te versamel, terwyl antwoorde na die oorsaak van die dood van die jongmense voortduur.
Die SAPD het voedsel- en alkoholmonsters na Pretoria geneem vir verdere forensiese toetse, terwyl die toksiologie-verslae glo by die forensiese laboratorium in Kaapstad gefinaliseer word.
’n Ooggetuie wat ten tyde van die voorval op die perseel was, het aan eNCA gesê dat hy en sy vriende deur ’n vroulike uitsmyter (bouncer) met ‘n tipe chemikalieë gespuit is, wat hulle duiselig gemaak het. Een van hulle het in die hospitaal beland, omdat hy moeilik asemgehaal het.
Die minderjarige ooggetuie verduidelik dat hulle gratis op dié tragiese aand tot die taverne ingelaat en van gratis drank en kos voorsien was. Daar was ook waterpype wat gerook kon word.
Daar is steeds geen bevestiging oor die oorsaak van dood van hierdie jongmense nie, hoewel eNCA betroubaar ingelig is dat dit glo weens chemiese vergiftiging is.
Die polisie bewaak ook die huis van die eienaar, wie glo vir haar lewe vrees en na bewering nie haar huis kan verlaat nie.
Kyk gerus die regstreekse dekking: