Kevin Mileham, DA-woordvoerder oor energie, en Ghaleb Cachalia, DA-woordvoerder oor openbare ondernemings, het President Ramaphosa versoek om die land toe te spreek oor die ontvouende kragsituasie by Eskom. Die politieke party en die United Democratic Movement (UDM) meen dat Ramaphosa en sy kabinet konkrete planne moet verskaf vir die implementering van ‘n elektrisiteitsnoodplan.
50 dae gelede het die DA die kabinet gevra om ‘n Elektrisiteitsnoodreaksieplan (EERP) op te stel, wat geanker is op ‘n verklaring van ‘n ramptoestand oor Eskom in die elektrisiteitsektor. Die kabinet het gesê dat dit oorweging gee aan “…opsies wat sou help om die regering die noodmagte te gee om dringend meer krag op die netwerk te kry.”
“Terwyl ons bemoedig is deur die besluit wat deur die kabinet geneem is om die DA se oproep vir ‘n elektrisiteitsnoodplan vorentoe te neem, behoort die ramptoestand oor Eskom en die elektrisiteitsektor slegs vir ‘n beperkte tyd te wees en slegs faktore soos elektrisiteitsopwekking, berging, transmissie en verspreiding insluit,” lui ‘n verklaring.
Die DA doen verder ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om die nasie toe te spreek oor die spesifieke besonderhede en gepaardgaande tydlyne vervat in sy kabinet se voorgestelde elektrisiteitsnoodingrypings.
‘n Tydige vrystelling van hierdie intervensies sal ‘n geleentheid bied aan alle belanghebbendes regoor die land om ingeligte insette te lewer en deel te neem aan die spoedige implementering daarvan, asook die Parlement toelaat om die uitvoerende gesag aanspreeklik te hou om seker te maak dat dit gebeur.
“Met ministeriële onverskilligheid en gebrek aan optrede wat tot die verergerende beurtkragkrisis bygedra het, is die DA van mening dat ministers Gwede Mantashe en Pravin Gordhan geen rol in die implementering van enige noodreaksie op die elektrisiteitskrisis behoort te speel nie, en inderdaad dat die president hulle afdank vir nie-prestasie ingevolge hul ministeriële prestasie-ooreenkomste,” sê die DA.
Mantashe se “belemmerende en strydende houding” teen goeie advies om die netwerk vir onafhanklike kragprodusente oop te stel, het Suid-Afrika op die agterry geplaas in die opwekking van hernubare energie in vergelyking met ander ontluikende ekonomieë en het Suid-Afrika ‘n gebrek aan opwekkingskapasiteit gelaat te midde van hierdie fase 6-kragkrisis.
“Sy eweknie, Pravin Gordhan, was vermis in aksie terwyl Eskom gesukkel het met rompslompbeperkings, arbeidskwessies, ‘n vinnig verswakkende kragopwekkingsvloot en dade van sabotasie by sy kragstasies,” sê die DA.
Tensy dringende stappe gedoen word om bestaande rompslomp (red tape) vir IPP’s te verwyder, is daar ‘n groot waarskynlikheid dat Suid-Afrika nog ‘n dekade van voortdurende beurtkrag in die gesig staar.
“Die land het ‘n desperate behoefte aan die laagste koste vir krag en die nodige opwekkingskapasiteit terwyl bestaande aanlegte operasioneel beveilig word. Die private sektor is deurslaggewend om dit te verseker en toegangsweë moet versnel word.”