Die Minister van Justisie, Ronald Lamola, het gister gesê dat ‘n amptelike aansoek om die twee Gupta-broers, Atul en Rajesh, uit te lewer, nog in Arabies vertaal moet word.
Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) wag egter glo steeds vir die vertaling.
“Ministers moet verseker dat die Gupta-uitleweringsaansoek dringend vertaal word,” sê DA Skaduminister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Advokaat Glynnis Breytenbach, in ‘n verklaring.
Die DA sal aan die Ministers van Justisie, Ronald Lamola, en Internasionale Betrekkinge en Samewerking (DIRCO), Naledi Pandor, skryf om te vra dat die vertaling van die amptelike uitleweringsaansoek van die Guptas dringend in Arabies gedoen moet word.
Suid-Afrika het slegs 60 dae vanaf die Guptas se inhegtenisneming op 2 Junie 2022 om die formele uitleweringsaansoek ingevolge die land se uitleweringsverdrag met die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) in te dien.
Minister Lamola het in antwoord op ‘n parlementêre vraag van die DA onthul dat die VAE-owerhede hom op 6 Junie 2022 van die arrestasie ingelig het. Op 8 Junie het die Departement van Justisie ‘n versoek van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) ontvang vir die voorlopige arrestasie van die Guptas, wat toe na die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking (DIRCO) gestuur is.
Op 10 Junie is die departement in kennis gestel dat die Ondersoekdirektoraat (OD) binne die NVG besig is om die uitleweringsaansoek te finaliseer, en dat dit daarna in Arabies vertaal word.
“Ons doen ‘n beroep op die Departement van Justisie en DIRCO om die vertaling van die amptelike dokumentasie sonder verdere vertraging te fasiliteer, aangesien ‘n versuim om dit te doen kan lei tot die ontsporing van die Gupta se uitlewering,” sê advokaat Breytenbach.
“Die misdade waarvan die Guptas beskuldig word, is nie gering nie. Suid-Afrika ly daagliks onder die gevolge van die wydverspreide korrupsie en staatskaping.”
Die DA sê dit is van uiterste belang dat die Guptas teregstaan en die regering se aksies nie in die pad van geregtigheid moet staan nie.