Luitenant-kolonel Thabo Covan, polisiewoordvoerder in die Vrystaat, het bevestig dat lede verbonde aan die polisie se eenheid vir openbare orde in Bloemfontein Donderdagoggend vyf manstudente vir openbare geweld by die Sentrale Universiteit van Tegnologie in Bloemfontein in hegtenis geneem het.
Die operasionele bevelvoerder het die studente gewaarsku om binne ‘n gegewe tyd uiteen te gaan, aangesien hulle die voorwaardes oortree wat in ‘n uitgereikte hofbevel uiteengesit is.
Die betogende studente het volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gewelddadig geraak, waarna hulle die polisie en die veiligheidsbeamptes met klippe en bottels begin gooi het.
Die polisie het skokgranate gebruik om die skare uiteen te jaag. Die ander groep het in King Edwardstraat ingehardloop en verkeer versper deur klippe op die paaie te plaas.
Die polisie het toe die vyf manlike studente tussen 18- en 22-jarige ouderdom in hegtenis geneem.
’n Saakdossier vir openbare geweld en die oortreding van ‘n hofbevel is by die Parkweg-polisiestasie geopen.
Die studente sal eers Maandag 4 Julie 2022 in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.