Die Oos-Kaapse LUR vir onderwys, Fundile Gade, het die onlangse ‘onsedelike gedrag’ van drie leerders aan Hoërskool Mario Louw in Queenstown in die sterkste moontlike terme veroordeel.
Daar word beweer dat ‘n 13-jarige graad 8-meisie-leerder in die skool se koshuis deur ‘n groep seuns verkrag is.
Vuyiseka Mboxela, woordvoerder van die Oos-Kaapse LUR vir onderwys, Fundile Gade, het Saterdag aan AfriNuus bevestig dat die voorval na bewering op 6 Junie plaasgevind het, maar eers Vrydag by die provinsiale onderwysdepartement aangemeld is.
“Hierdie voorval ontvang tans ondersteuning van beide die departement van onderwys en die departement van gesondheid,” sê Mboxela in ‘n verklaring.
Maatskaplike werkers is deur die departement gestuur om die slagoffer en die gesin gedurende hierdie moeilike tyd by te staan.
“Tans kry die slagoffer al die nodige ondersteuning en berading by die Frontier-staatshospitaal waar sy ook deur hul maatskaplike werker bygestaan word,” voeg Mboxela by.
’n Saak is by die plaaslike polisiestasie aanhangig gemaak, waarna die polisie die seuns in hegtenis geneem het. Hulle is later op borgtog vrygelaat.
Die departement het ook ‘n saak teen die beweerde oortreders geopen. Hulle sal na verwagting volgende week ‘n dissiplinêre verhoor moet bywoon.
“Aangesien die saak baie sensitief is, hou die departement dit noukeurig dop en kry deurentyd opdaterings oor die vordering deur die maatskaplike werker wat met die gesin skakel,” sê Mboxela.
LUR Gade sê sy wil graag al die seuns wat onsedelik by skole optree waarsku dat sulke voorvalle nie geduld sal word nie.
“As die departement sal ons altyd alles in ons vermoë doen om die familie en die slagoffer in sulke voorvalle te ondersteun. Ons probeer ons ondersoek bespoedig terwyl ons die kritieke inligting deursoek en terselfdertyd die wet nakom,” het Gade gesê.
“Ons sal seker maak dat geregtigheid vir die slagoffer geskied. Boonop neem ons waar dat daar ‘n nuwe pandemie in ons samelewings opduik. Hierdie pandemie manifesteer hom deur óf ‘n seunskind wat ander mede-vrouestudente verkrag óf die buitengewone uiterste twee scenario’s van ‘n manlike onderwyser wat die meisiekind verkrag of ‘n verhouding het met die meisiekind of ‘n vroue-onderwyser wat ‘n verhouding met ‘n seuntjie het. Beide hierdie twee is oortredings, en sou jy skuldig bevind word, wees gewaarsku”.