Mike Gough, woordvoerder van ProMed, het bevestig dat ‘n 52-sitplekbus, ‘n minibustaxi, ‘n vragmotor, ‘n ambulans, twee sleepwaens en ongeveer 12 ander motors om 20:00 vanaand in ‘n ongeluk op die N1-hoofweg in Pretoria betrokke was.
ProMed het in ‘n verklaring op Facebook bevestig dat daar ‘n geringe ongeluk op die plek plaasgevind het, en terwyl nooddienste die toneel bygewoon het, het ‘n sekondêre, groot ongeluk plaasgevind.
ProMed berig verder dat ongeveer 60 mense in die ongeluk beseer is. Slegs 20 pasiënte het verdere behandeling nodig gehad en is na nabygeleë hospitale vervoer. Die ander pasiënte is op die toneel behandel, maar het geweier om na die hospitaal vervoer te word.
Een insittende van die minibustaxi het ernstige beserings opgedoen wat gespesialiseerde ingrypings vereis het. Die pasiënt was in die wrak vasgekeer en moes met hidrouliese reddingstoerusting bevry word. ‘n Mediese helikopter is na die toneel om te help om hierdie pasiënt na ‘n gespesialiseerde hospitaal te vervoer.
Mediese nooddienste, reddingsdienste, polisie en ander hulpdienste kon nie die ongelukstoneel bereik nie, omdat motoriste die noodbaan op die snelweg gebruik het.
Brandweerwaens en ambulanse het steeds in die agterkant van verkeer vasgesit terwyl die toneel opgeruim is.
ProMed het ‘n beroep op motoriste gedoen om die wet te gehoorsaam en die noodbaan oop te hou vir noodvoertuie.
Die oorsaak van die ongeluk is tans onbekend en sal deel vorm van ‘n multidissiplinêre ondersoek.