‘n Buffel het Donderdag om 08h00 ‘n 50-jarige man, Benjamin De Bruyn, op ‘n plaas in Lephalale, Limpopo, aangeval en doodgemaak, terwyl die plaaseienaar in ‘n boom moes klim om veilig te wees.
‘n Buffel het na bewering dié man voor ‘n fotograaf en die eienaar van die Oxford-plaas doodgemaak.
“Daar word beweer dat die slagoffer saam met die plaaseienaar en ‘n fotograaf was toe die buffel hom aangeval het, nadat hy skote op die buffel afgevuur het. Hy is op slag dood,” het kolonel Mamphaswa Seabi, provinsiale woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Limpopo, in ‘n verklaring gesê.
Hy sê hoewel die plaaseienaar hom probeer red het deur ‘n paar skote op die buffel te skiet, het hy hom ook agternagesit en aangeval.
“Hy het ontsnap deur op die boom te klim en die fotograaf het ook daarin geslaag om ’n veilige afstand te hou,” het Siabi gesê.
Die polisie en nooddienste is na die toneel ontbied waar De Bruyn dood verklaar is, terwyl die eienaar na die hospitaal vir mediese behandeling gehaas is.
‘n Polisie-ondersoek is na die voorval van stapel gestuur.