Die hooggeregshof in Johannesburg het Vrydag bevind dat ‘n saak teen President Matamela Cyril Ramaphosa kan voortspruit na sy beweerde deelname as ‘meesterbrein’ in die aanhitsing van spanning tussen die Lonmin-mynwerkers in Marikana en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) wat gelei het tot die beserings, sterftes, arrestasies en aanhouding van Lonmin-mynwerkers, asook die werknemers as eisers in die betrokke saak.
Volgens City Press wil bykans 350 van die mynwerkers wat die dag van die Marikana-bloedbad betrokke was, skadevergoeding van bykans R1 miljard van Ramaphosa en Sibanye-Stillwater [wat die Lonmin-myn ‘n paar jaar ná die bloedbad oorgekoop het] eis vir beserings wat hulle tydens die voorval opgedoen het.
Regter Frits van Oosten het Vrydag vier van Ramaphosa se uitsonderings bekragtig, maar een verwerp. Hy het bygevoeg: “Ek stem saam en dit is gevolglik my bevinding dat die eisers aan die toets van wetlike kousaliteit voldoen het.”
Kousaliteit is ‘n vereiste vir deliktuele aanspreeklikheid en die eiser(s) moet op ‘n oorwig van waarskynlikheid bewys dat daar ‘n feitelike verband getrek kan word tussen sy gelede skade en die verweerder se optrede.
Op 16 Augustus 2012 het die SAPD met vuurwapens op ‘n skare stakende mynwerkers by Marikana, in Noordwes, gevuur.
Gevolglik is 34 mynwerkers dood en 78 ernstig beseer gelaat. Ná die tyd is 250 van die mynwerkers in hegtenis geneem.
Die klaers in die saak was onder die stakende werkers wat tydens koeëlreën gewond en daarna in hegtenis geneem is.
AfriNuus het uitgereik na die presidensie vir kommentaar, wat bygewerk sal word sodra dit ontvang is.
Lees gerus ‘n gedeelte uit die hofuitspraak hier onder.