Kevin Mileham, DA-woordvoerder oor energie, het Maandag in ‘n verklaring bevestig dat die DA ‘n Wetsontwerp op Brandstofprysderegulering by die Parlement ingedien het.
Dit volg in die nasleep van nog ‘n massiewe brandstofprysverhoging wat vandag aangekondig is.
“Hierdie baanbrekende wetsontwerp sal poog om die Wet op Petroleumprodukte te wysig,” sê Mileham. Die huidige wet gee die regering die mag om die prys van petroleumprodukte voor te skryf.
Mileham voeg by: “Ons beoog om later hierdie week ons voorneme in die Staatskoerant te publiseer, waar die publiek genooi sal word om kommentaar te lewer oor die gestelde doelstellings van ons wetsontwerp.”
Die sukses of mislukking om die brandstofprys te dereguleer, berus nou by die ANC in die Parlement.
Die primêre doel van die wetsontwerp is om die brandstofsektor te dereguleer en sodoende mededinging in brandstofprysvasstelling op beide die groothandel- en kleinhandelvlakke te verseker.
Die wetsontwerp, indien aanvaar, sal laer petrolpryse vir verbruikers tot gevolg sal hê, aangesien kleinhandelaars kan meeding om klante te wen op grond van prysvlakke.
Brandstofpryse sal Woensdag ‘n rekordsyfer van meer as R27 per liter by meeste vulstasies regoor die land haal.
“Die wetsontwerp sal die bogenoemde hoofsaaklik verseker deur die verwydering van Artikel 2 van die Wet op Petroleumprodukte. Die Wetsontwerp wysig ook artikel 2 (1) (d) om besighede toe te laat om kreatiewe handelsmetodes te implementeer wat tot verlaagde petroleumpryse kan lei.”
Die DA stel voor dat die Mededingingskommissie die taak kry om die energiemark fyn dop te hou. Indien enige teenmededingende praktyke vasgestel word, sal vinnige ondersoek en regstellende stappe volg.
Die gemiddelde brandstofprys is saamgestel uit ten minste sewe heffings wat saam ons brandstof een van die duurstes in Suider-Afrika maak, in vergelyking met lande soos Botswana, wat toevallig die meeste van hul brandstofvoorraad van Suid-Afrika kry.
Onafhanklike ramings dui daarop dat koste en winste op groothandel-, vervoer- en kleinhandelvlakke sowat 20% van die brandstofprys uitmaak. “Dit is onvolhoubaar as Suid-Afrika ‘n mededingende brandstofmark en brandstofprysstelsel wil hê wat verbruikers teen buitensporige stygings beskerm,” sluit Mileham af.
Kyk gerus die aankondiging: