Kito Boks van die DA in die Matzikama-area het laasweek 2 000 sonpaneelgeisers in ‘n stoor in Maskamsig ontdek. Die geisers is in 2021 deur die ANC-koalisie, wat die Matzikama munisipaliteit in hierdie tydperk beheer het, ontvang. Dit is egter nooit aan inwoners oorhandig nie.
Die nasionale regering het hierdie geisers vroeg verlede jaar aan die munisipaliteit oorhandig, maar daar is geen poging aangewend om die geisers te installeer nie. Boonop is daar tans ‘n dispuut tussen die nasionale regering en die verskaffer.
“Die geisers is geoormerk vir begunstigde inwoners van Vanrhynsdorp en Klawer, en soos die res van Suid-Afrika, gaan hierdie inwoners ook gebuk onder beurtkrag,” het Boks onthul. “As die ANC-regering hul werk gedoen het en seker gemaak het dat die sonpaneelgeisers verlede jaar geïnstalleer was, sou die mense elke dag warm water gehad het.”
Die DA sê dat inwoners van Vanrhynsdorp moet seker maak dat die ANC en sy vennote nie weer in Matzikama aan bewind kom nie. “Hulle sal ons net wéér teleurstel.”
Kito Boks, van die DA, sê dat sy party onderneem om goeie dienslewering na Vanrhynsdorp te bring en om seker te maak dat hierdie 2 000 geisers afgestof word en dat installasie binne drie maande sal begin.