Oupa Segalwe, woordvoerder van die openbare beskermer, het bevestig dat President Cyril Ramaphosa ‘n uitstel van 25 dae toegestaan is vir sy antwoorde op die vrae van die Phala Phala-skandaal om by die OB-kantoor ingedien te word.
“Ons sal verseker dat ons die werk onafhanklik doen wanneer ons die ondersoek van stapel stuur. Die ondersoek sal sonder vooroordeel, vrees of guns wees,” sê Segalwe.
AfriNuus het vroeër berig dat adv. Busisiwe Mkhwebane laasmaand talle vrae aan Ramaphosa gestel het oor die besonderhede agter die omstrede diefstal op sy Limpopo-plaas. Die uitgelekte vraelys is reeds gedeel.
Die OB sal ‘n ondersoek na die voorval van stapel stuur om te bepaal of die President die Etiekkode deur sy aksies oortree het.
Talle onthullings is die afgelope paar weke in die media oor die voorval berig, insluitend bewerings dat die rusbanke waarin die R4 miljoen na bewering weggesteek is, met die geld reeds in per vliegtuig vanaf oorsee gekom het. Indien dit bevestig word, sal dit beteken dat Ramaphosa se bewering dat die geld uit opbrengste van die verkope van diere vals is.
Ander bewerings is dat top-polisieamptenare in Suid-Afrika van die diefstal geweet het.
Ramaphosa het nog nie in die publiek oor die voorval gepraat nie.