Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, het pas bevestig dat twee stelle tweelinge, onderskeidelik agt en 13 jaar oud, in die vroeëoggendure van Maandag 4 Julie doodgebrand het.
Volgens die inligting tot die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se beskikking is die polisie na die toneel ontbied waar ‘n plakkershut by die Marikana-informele nedersetting in Hendrina, Mpumalanga, aan die brand was.
Gevolglik is die brandbestryders ontbied om die brand te blus, terwyl die polisielede na die toneel gehaas het.
“Ongelukkig is twee stelle tweelinge (twee seuns en twee meisies) op die toneel dood verklaar,” sê brigadier Mohlala.
Dit is nog nie bekend wat die oorsaak van die brand kon wees nie, maar los kragkabels was op die grond sigbaar, wat ‘n vermoede laat ontstaan dat daar moontlik ‘n onwettige aansluiting van elektrisiteit was.
Daar word verder beweer dat die 33-jarige ma van die oorledenes hulle drie dae gelede in die sorg van hul 17-jarige broer gelos het.
Toe die brand uitbreek, het die broer probeer om die lewens van sy broers en susters te red, maar kon nie, aangesien die brand reeds in ‘n gevorderde stadium was.
Die 17-jarige seun is na die hospitaal in Middelburg geneem, omdat hy in ‘n toestand van skok was.
‘n Polisieondersoek is van stapel gestuur om die oorsaak van die brand te bepaal.