Die nasionale direkteur van openbare vervolging, advokaat Shamila Batohi, en die nasionale hoof van die Valke, luitenant-generaal Godfrey Lebeya, het op Vrydag 1 Julie vergader ná die vrystelling van die finale deel van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping se verslag.
In ‘n gesamentlike verklaring het die partye bevestig dat 86 ondersoeke reeds van stapel gestuur is, 21 sake by die hof ingeskryf is, en 65 beskuldigdes in verband met Staatskaping reeds in die hof verskyn het.
“Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en Valke erken die skadelike impak van korrupsie op die oppergesag van die reg en Suid-Afrika se ontwikkelingsvooruitsigte,” lui ‘n verklaring.
Die partye het bevestig dat hulle sal saamwerk en kundigheid deel om die 150 afdelings van die verslag aan te pak.
Bykomende seminale sake sal voor die einde van September 2022 ingeskryf word.
Seminale sake verwys na sake waarby die beweerde argitekte van staatskaping betrokke is, insluitend invloedryke persone en private sektore, en/of groot bedrae geld.
Hierdie sake sal deur ‘n toegewyde span ondersoekers en aanklaers hanteer word wat die nodige kundigheid het in vervolgingsgeleide prosesse wat komplekse aangeleenthede behels.