Boris Johnson, premier van Brittanje, het laasmaand net-net ‘n mosie van wantroue in sy leierskap oorleef, te midde van druk deur LP’s vir hom om te bedank.
Brittanje se minister van finansies en minister van gesondheid het Dinsdag bedank, wat die aantal ministers en amptenare wat uit Johnson se kabinet die afgelope week bedank het, op 37 te staan bring.
The Washington Post berig dat die twee topministers en ’n rits meer junior amptenare Woensdag aan die Parlement gesê het dat hulle nie meer kans sien om onder sy ‘skandalige leierskap’ te dien nie.
Baie LP’s is verder bekommerd oor sy vermoë om in ‘n tyd van toenemende ekonomiese en sosiale druk te regeer. Ander is bekommerd oor die feit dat hy meer op die mense van die Oekraïne fokus as op die mense van sy eie land.
In die afgelope paar maande is Johnson deur die polisie beboet ná ‘n polisieondersoek bevind het dat hy COVID-19-maatreëls verontagsaam het.
41% van lede aan die Konserwatiewe Party het ingestem om hom deur ‘n wantrouestemming te verdryf, met voorheen lojale LP’s wat hom aangespoor het om te bedank.
Johnson het egter belowe dat hy sal voortgaan om te regeer, en dat hy nie beplan om voor 2030 sy koffers te pak nie.