John Steenhuisen, leier van die Demokratiese Alliansie (DA), het bevestig dat die Speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, geweier het om ’n ad hoc-komitee te stig om bewerings rondom die diefstal van meer as $4 miljoen op President Cyril Ramaphosa se Phala Phala-wildplaas te ondersoek.
“Dit is ’n direkte en doelbewuste stap deur die Parlement om die uitvoerende gesag, en die President self, te beskerm teen die aanspreeklikheid wat in ons grondwetlike demokrasie van hulle vereis word,” sê Steenhuisen.
Volgens Steenhuisen herhaal die geskiedenis homself, aangesien die bewerings rondom oudpresident Jacob Zuma se Nkandla-woning ook nie ondersoek is nie.
“Trouens, hierdie het die nasie gewys dat die Parlement en die Speaker, onder die ANC, niks geleer het uit die nege vermorste jare waarin Suid-Afrika triljoene rande aan korrupsie verloor het en dramatiese ontwikkelings- en ekonomiese agteruitgang gely het nie,” sê Steenhuisen.
Steenhuisen meen dit dui aan dat die Speaker self nie ag geslaan het op die aanbevelings wat in die Zondo-verslag gemaak is rondom die Parlement se weiering van versoeke vir dringende ad-hoc komitees en portefeuljekomitees nie.
Regter Raymond Zondo word aangehaal wat die volgende in hierdie verband sê:
“Die waarheid van die saak, blyk dit, is dat die ANC as organisasie nie voor middel 2017 bereid was om ‘n parlementêre ondersoek of ondersoeke na betrokke bewerings te begin of te ondersteun nie. Die leierskap van die ANC sê dit is steeds daartoe verbind om president Zuma en die kaders te ondersteun, en was nie bereid om die bewerings van wanbesteding aan ‘n deursigtige openbare ondersoek bloot te stel nie.”
“Weereens staan die Parlement by en kyk terwyl ons staatshoof vasgevang is in ernstige bewerings van diefstal, ontvoering en die misbruik van staatshulpbronne – bewerings wat president Ramaphosa totaal ongeskik kan maak om openbare amp te beklee,” voeg Steenhuisen by.
“Die ANC begin die Parlement weer hanteer as ‘n mat waaronder hy skandale en korrupsie buite die openbare oog vee.”
Die Demokratiese Alliansie (DA) sê dit sal dringend sy regsopsies oorweeg om die Speaker se besluit te betwis.