Roy Jankielsohn, Vrystaatse DA-leier, sê dat terwyl 63% van mense in die Vrystaat in armoede leef, het ‘selfdienende lede van die Uitvoerende Raad (LUR’e)’ in die provinsie R7 200 000 aan nuwe motors bestee.
Hierdie inligting is ontvang in ’n antwoord van William Bulwane, Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en vervoer, op ’n DA-vraag in die Vrystaatse Wetgewer.
Die antwoord dui aan dat sewe nuwe BMW 5-reeks voertuie vir LUR’e gekoop is – waarvan een ’n aflosvoertuig is.
Hierbenewens is twee Audi Q5-voertuie vir die LUR’e vir Openbare Werke en Maatskaplike Ontwikkeling gekoop. Die voertuie is almal in Oktober 2021 gekoop.
“Die Vrystaatse Uitvoerende Raad gooi ’n blinde oog op gewone mense in die provinsie, van wie baie nie weet waar hul volgende ete vandaan gaan kom nie,” sê Roy Jankielsohn.
“Die LUR’e wat in luukse ‘staatsgeborgde voertuie’ ry ten koste van belastingbetalers hoef nie bekommerd te wees oor skade wat deur slaggate veroorsaak word of die koste van stygende brandstofpryse nie.”
Die politieke party sê dit is geen verrassing dat ANC-LUR’e wat reeds R2 037 129 per jaar verdien, nie sal skroom om bykomende geld aan luukse voertuie vir hul eie gerief te bestee sonder om te sorg vir die stygende lewenskoste van inwoners van die Vrystaat nie.
“Verder regverdig hul uitsette in terme van prestasie van hul departemente ten opsigte van dienslewering, sowel as hul algehele ervaring en kwalifikasies nie eens salarisse van ’n gemiddelde werker nie,” voeg Roy Jankielsohn by. “Die meeste LUR’e sou nooit in hul posisies gewees het nie, of sou uit hul werk afgedank geword het in ander sektore van die samelewing.”