Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, het in ’n verklaring gesê dat ’n noodtoestand oor krag nie nodig is om die huidige elektrisiteitskrisis op te los nie.
“Die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe, word deur die Elektrisiteitsreguleringswet in staat gestel om die huidige administratiewe rompslomp ten opsigte van privaat elektrisiteitsopwekking uit te skakel,” sê dr. Groenewald.
Die VF Plus het al verskeie kere sy standpunt gestel dat oplossings vir die land se kragprobleme buite die staat se direkte invloedsfeer in private opwekking lê.
“Om dit te vermag, is dit nodig om administratiewe rompslomp uit te skakel en beleid te verander waarvoor geen noodtoestand nodig is nie,” meen dr. Groenewald.
Eerder as ’n noodtoestand, stel die VF Plus voor dat die parlement se kiesafdelingsperiode opgeskort word en dat die parlement ’n noodbegroting oorweeg, nodige wetwysigings maak en die nodige oorsig doen om die krisis aan te spreek.
“’n Noodtoestand se moontlike regulasies om verkrygingsprosesse uit te skakel, sal die deur ooplaat vir korrupsie soos wat met die Covid-19-ramptoestand gesien is,” voeg dr. Groenewald by.
“Daarbenewens is enige reddingsaksie se kans op sukses gering met die ANC aan stuur van sake. Jarelange en peperduur reddingsaksies by die Suid-Afrikaanse Lugdiens, ander staatsentiteite en munisipaliteite getuig daarvan.”
Die VF Plus sê die politieke party vrees ook dat die regering ’n noodtoestand kan misbruik om ontoepaslike en omgewingsonvriendelike oplossings deur te dwing wat nooit gewone regulering en marktoestande sou oorleef nie.
“Die minister van minerale hulpbronne en energie het hom verbind tot seismiese eksplorasie en hidrobreking wat groot omgewingsgevare inhou. Dit is tot nou toe met hofaksies gestuit.”
Die regering het vanjaar ook met sy noodkragprogram waar kragskepe gehuur sou word, die wind van voor gekry met tenderprosesse wat reeds bevraagteken is.
Drywende kragstasies gebou op skepe moet by ’n hawe aanmeer en aan die netwerk koppel. “Die energiebron is aardgas en Suid-Afrika beskik nie oor die infrastruktuur om aardgas by hawens te kry nie.”
Die koppelings om daardie lading in die netwerk in te stoot, bestaan ook nie by enige Suid-Afrikaanse hawe nie.
Die VF Plus sê dit is in beginsel nie teen die gebruik van kernkrag nie. “Die omvang en onmiddellikheid van die land se kragkrisis verwyder dit egter as ʼn opsie. Die huidige situasie met pogings om Koeberg se leeftyd te verleng, laat ook meer vrae as antwoorde.”
Die kragkrisis word hoofsaaklik met steenkoolkragsentrales ondervind. Bestaande sentrales is verby hul leeftyd en tesame met swak onderhoudswerk is dit besig om in duie te stort.
“Eindelik lê die kern van Eskom se ineenstorting in die totale onvermoë van die regering en die direkte gevolge van regstellende aksie (RA) en korrupsie. Dit het deel van die ANC geword,” voeg dr. Groenewald by.
Die politieke party sluit af deur te sê dat Suid-Afrika se ligte eers weer sal aangaan wanneer daar van die ANC ontslae geraak word.