Die bestuurskomitee van Cederberg Eerste (CE) het Saterdag in ’n verklaring bevestig dat die leierskap van die politieke party sy volle vertroue en ondersteuning op sy leier en voorsitter, dr. Ruben Richards, plaas.
“Ons is bewus daarvan dat dr. Ruben op ’n spesiale raadsvergadering van die Cederberg-munisipaliteit, wat op 13 Julie 2022 in Clanwilliam gehou is, as uitvoerende burgemeester uitgestem is,” lui ’n verklaring deur die bestuurskomitee.
“Ons is ook bewus daarvan dat die raad besluit het om dr. Ruben te ondersoek vir ’n beweerde oortreding van die Gedragskode met verwysing na sy boerdery en aktiwiteite.
“Ons is bewus van, en ondersteun die verklaring wat dr. Ruben op 13 Julie 2022 aan die raad gemaak het, en sal ook saamwerk met enige ondersoek wat nodig mag wees in die beweerde wangedrag of oortreding van die Gedragskode.”
Die CE glo dat die regte proses gevolg moet word en dat die party sy volledige samewerking sal gee.
“Ons is hartseer en bekommerd dat daar ’n doelbewuste veldtog is om die naam en reputasie van dr. Ruben te beswadder met die doel om hom soos ’n korrupte en onbetroubare persoon te laat lyk.”
Die politieke party sê dit bly trots op sy leier en staan by hom deur hierdie moeilike tyd.
AfriNuus het vroeër berig dat ’n mosie van wantroue in Ruben Richards, die voormalige burgemeester van Cederberg, Woensdag geslaag het nadat bewerings van bedrog en korrupsie teen hom gemaak is.
William Farmer van die DA het Richards as burgemeester vervang.
Die mosie is deur die Patriotic Alliance (PA) ter tafel gelê en deur die ANC ondersteun.
