Die Raad van die Universiteit van die Vrystaat (UV) het Vrydag sy Covid-19-regulasies en verpligte Covid-19-inentingsbeleid ‘met onmiddellike effek’ laat vaar.
“Sedert die regering se aankondiging op 22 Junie 2022 dat die land se Covid-19-regulasies herroep gaan word, het die UV ’n risiko-evaluering gedoen om die risiko van blootstelling aan personeel en studente te bepaal. Uit die assessering was dit duidelik dat Covid-19-infeksies op die kampus tans ’n lae risiko inhou,” sê prof. Francis Petersen, rektor en visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat.
“Ons glo dat Covid-19 nie meer ’n onmiddellike bedreiging vir die veiligheid van ons personeel en studente inhou nie, en dat die pandemie in ’n fase is waar hulle verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid moet neem. Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die sukses van die implementering van die beleid. Personeel en studente wat steeds maskers wil dra, word versoek om dit na eie goeddunke te doen. Diegene wat nog nie teen die virus ingeënt is nie, word aangeraai om vir hul eie veiligheid en beskerming ingeënt te word,” het prof. Petersen verder gesê.
Lees meer: https://bit.ly/3RFdYGs