Samantha Graham-Maré, die DA se skaduminister van openbare werke en infrastruktuur, het aan die kantoor van die openbare beskermer (OB) geskryf om ’n dringende ondersoek van stapel te stuur na die R2,6 miljoen wat die minister van openbare werke en infrastruktuur, Patricia De Lille, se departement sedert 2021 aan kragopwekkers en brandstof vir verskeie ministers bestee het.
“Om belastingbetalers se geld so te mors is niks anders as ’n herhaling van wat by Nkandla tydens die Zuma-jare gebeur het nie,” sê Graham-Maré.
Thuli Madonsela, die voormalige openbare beskermer, het in haar verslag, ‘Secure in Comfort’, gesê dat die departement van openbare werke en infrastruktuur (DPWI) versuim het om hul gedagtes toe te pas met die oorweging van die Nkandla-opgraderings. “Minister De Lille se optrede om haar kollegas toe te laat om onnodig voordeel te trek uit die installering en werking van hierdie kragopwekkers, val in dieselfde kategorie as die misbruik van openbare geld tot voordeel van oudpresident Jacob Zuma,” meen Graham-Maré.
Die DA sê dat die DPWI die gids vir lede van die uitvoerende gesag oortree het deur ministers teen beurtkrag te beskerm. Die bepalings van die gids bepaal dat lede van die uitvoerende gesag verantwoordelik is vir koste rakende die verkryging, instandhouding en installering van kragopwekkers in hul private wonings en dat enige koste vir water en elektrisiteit by hul staatshuise bo R5 000 per maand deur die lid betaal moet word.
“Minister De Lille prioritiseer haar kamerade, in plaas daarvan om proaktief te wees en hierdie geld te gebruik om krag te verseker vir alle hospitale en klinieke, misdaadbrandpunte en sukkelende klein ondernemings.”
Volgens die DA het hierdie jongste voorval getoon dat die gemak en beskerming van die uitvoerende gesag belangriker as die welsyn van Suid-Afrikaners is. “Haar prestasiegeskiedenis gedurende haar ampstermyn, van die Beitbrug-grens ‘wasgoedlyn’, verbrokkelende Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) fasiliteite, byna 4 000 staatseiendomme wat as behuisingsprojekte geprioritiseer kon word, maar wat deur vandalisme verval, en geen vordering op die Parlement byna agt maande nadat dit afgebrand het nie, ’n minister ‘in lyn met die ANC weerspieël.’
Die DA versoek dat die ministers wat bevind word dat hulle die gids oortree het, die geld terugbetaal wat geprioritiseer moet word om kwesbare Suid-Afrikaners te ondersteun.