Lt.genl. Sello Kwena, Noordwes-polisiekommissaris, het ’n voorval wat die rondte op sosiale media-platforms doen, in die sterkste moontlike terme veroordeel. In die video kan gesien word hoe ongeveer vyf mans probeer om óf die slagoffer te beroof óf sy wit sportnutsvoertuig in Klerksdorp te kaap. Die man, gewapen met wat na ’n mes lyk, het moedig terugbaklei totdat die mans moed opgegee het.
“Op hierdie stadium is geen saak by die polisie vir ondersoek geopen nie aangesien die slagoffer weier om dit te doen,” sê Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder. “Ongelukkig is dit die tweede voorval waarin die klaer geweier het om ’n saak te open. In ’n soortgelyke voorval wat in Mei plaasgevind het, het die klaer ook geweier om ’n saak te open al is die verdagtes, wat hom na bewering beroof het, geïdentifiseer.”
In nog ’n afsonderlike voorval wat op sosialemedia-platforms hersirkuleer, kan gesien word hoe ’n polisiebeampte wat by die Klerksdorp-polisiestasie gestasioneer is, op Woensdag 13 Julie 2022 in die Klerksdorpse middestad met ’n groep mans worstel. Die beampte moes sy vuurwapen uithaal om die beweerde aanvallers, wat hom beledig het, af te skrik. Na die voorval is ’n saak van aanranding en crimen injuria geopen en ’n verdagte is in hegtenis geneem. Die saak word verder ondersoek.
Die Provinsiale Kommissaris het sy misnoeë oor voorvalle soos hierdie uitgespreek. Hy het aangedui dat ontplooiing deur verskeie operasies, insluitend sigbare patrollies in die Klerksdorpse middestad, ’n prioriteit vir provinsiale en distriksbestuur is om die veiligheid van die gemeenskap te verseker. Die generaal het ook ’n beroep op die gemeenskap gedoen om saam met die polisie te werk in die bekamping van misdaad deur ‘gewoonte misdadigers’. Hy het boonop die belangrikheid daarvan beklemtoon om sake te open wanneer hierdie voorvalle plaasvind om te verseker dat oortreders geïdentifiseer en aangekla word.