Die Nasionale Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), generaal Fannie Masemola het die provinsiale polisiekommissaris van Limpopo, luitenant-generaal Thembi Hadebe opdrag gegee om maksimum hulpbronne te mobiliseer om diegene wat verantwoordelik is vir die moord op die burgemeester van die Collins Chabane-munisipaliteit in Limpopo vas te trek.
Die 56-jarige Moses Maluleke is Donderdagaand by sy huis doodgeskiet en sy 18-jarige seun is gewond.
Volgens berigte het drie onbekende verdagtes om 19:00 die burgemeester se huis in die Saselamani-dorpie binnegegaan waar hulle geld van die oorlede burgemeester en sy seun geëis het. Toe die slagoffers nie aan die verdagtes se instruksies kon voldoen nie, is hulle na bewering deur die drietal geskiet.
Die burgemeester het op die toneel aan sy beserings beswyk en sy seun na ’n nabygeleë hospitaal vervoer waar hy verdere mediese sorg ontvang het.
’n Saak van moord en poging tot moord word ondersoek.
Die polisie het intussen ’n soektog na die groep verdagtes van stapel gestuur.
Lede van die publiek wat weet of moontlik gesien het wat gebeur het, word aangemoedig om by die Saselamani-polisiestasie aan te meld of die Stop Misdaad-blitslynnommer by 0860010111 te skakel om met polisieondersoeke te help.