Die ondersoekproses na die Enyobeni-voorval wat in die vroeë oggendure van Sondag 26 Junie 2022 plaasgevind het, het gelei tot die inhegtenisneming van vier manlike verdagtes tussen die ouderdomme van 16 en 21.
Die verdagtes was na bewering betrokke by die diefstal van die oorledenes se besittings in die Enyobeni-taverne in Scenery Park.
Die inhegtenisnemings volg na die ondersoek wat begin het ná die aangemelde dood van 21 tieners in die taverne. Die oorsaak van die sterftes moet nog vasgestel word, alhoewel die finale resultate van die forensiese laboratorium beskikbaar gestel is.
As deel van die voortgesette ondersoek deur misdaadintelligensie, het SAPD-speurders inligting opgevolg wat gelei het tot die arrestasie van verdagtes wat vermoedelik betrokke was by die diefstal van die oorledenes se goedere.
Drie van die verdagtes is op Donderdag 21 Julie 2022 gearresteer, terwyl een, ’n 16-jarige minderjarige, op Vrydag 22 Julie 2022 in hegtenis geneem is. Die 16-jarige is in die toesig van sy ouers oorhandig ingevolge die Wet op Kindergeregtigheid wat bepaal dat ’n minderjarige kind nie in die polisieselle aangehou mag word nie.
Die gesteelde items sluit in skoene, pruike, klere en ’n horlosie wat behoort aan die kinders wat tydens die voorval gesterf het.
Sommige van die gesteelde items is deur families uitgeken, terwyl ander nog uitgeken moet word. Hulle is in die huise van die verdagtes opgespoor.
Sake van diefstal, besit van vermoedelik gesteelde eiendom en regsverydeling word ondersoek.
Die verdagtes word nie met die dood van die 21 kinders verbind nie, aangesien daar geen bewyse is wat hul betrokkenheid in hierdie stadium aandui nie.
Die ondersoek na die vasstelling van die oorsaak van die kinders se dood is nog aan die gang.
Op die regte tyd sal die geaffekteerde gesinne ingelig word.
Al vier verdagtes sal na verwagting Maandag 25 Julie 2022 in die Oos-Londen-landdroshof verskyn.