Die polisie het ’n 22-jarige man in hegtenis geneem nadat ’n 11-jarige meisie op 20 Julie 2022 dood in haar huis in die Kaplani-omgewing buite Mthatha, in die Oos-Kaap, gevind is.
Daar word beweer dat die oorlede kind by die huis besig was om reg te maak vir skool terwyl haar ma reeds werk toe is. Die kind se ma het toe ’n oproep van haar dogter ontvang wat haar meegedeel het dat iemand die deur probeer oopstoot.
Die ma het haar buurman, wat ook ’n familielid is, gebel om na haar dogter te gaan kyk. ’n Bekende man is gesien wat die huis verlaat het. Die persoon is ondervra en hy het beweer dat hy na die slagoffer se ma gesoek het.
Die buurman het by die huis ingegaan en die meisie met ’n steekwond aan haar bolyf aangetref.
Die polisie is in kennis gestel en die verdagte is in dieselfde area in hegtenis geneem. Die verdagte is ook verwant aan die oorledene.
Die gemeenskap het hom in die tussentyd erg aangerand.
’n Saak van moord en verkragting word ondersoek en die verdagte sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.
Lt.genl. Nomthetheleli Mene, Oos-Kaapse polisiekommissaris, het die arrestasie verwelkom. “Daar moet egter op gelet word dat sulke gruwelike en gevoellose voorvalle van geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord deur alle fassette van die samelewing beveg moet word, en dit is ontmoedigend om te sien dat slagoffers nie eens veilig is in die hande van hul familie nie. Ons veroordeel ook voorvalle van gepeupelgeregtigheid (mob rule) in enige vorm,” het lt.genl.Mene bygevoeg.