Minstens 14 staatsentiteite en departemente – insluitend die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) – sal onder die skerp oog van die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) kom nadat president Cyril Ramaphosa vyf proklamasies onderteken het wat die eenheid magtig om korrupsie en wanadministrasie in die entiteite te ondersoek.
Kaizer Kganyago, SOE-woordvoerder, het gesê die departemente wat ondersoek word, sluit al die provinsiale gesondheidsdepartemente in.
“Die SOE-ondersoek [na gesondheidsdepartemente] sal fokus op onwettige of onbehoorlike optrede deur eisers of aansoekers met betrekking tot mediese nalatigheidseise wat bedrieglik, onbehoorlik of onwettig was deur enige persoon of entiteit wat hulself of enige ander persoon onbehoorlik bevoordeel het. Die SOE sal ook ondersoek instel na enige onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes wat deur instellings of die staat aangegaan is.
“Die ondersoek sal eise dek wat plaasgevind het tussen 1 Januarie 2013 en 22 Julie 2022,” het Kganyago gesê.
Hy het gesê die KwaZulu-Natalse departement van vervoer sal ook ondersoek word.
Kganyago het verder gesê die SOE sal ook op die Newcastle-munisipaliteit fokus met ondersoeke na onder meer verkrygingsprosesse, die toekenning van tenders en spesifieke ondersoeke na ten minste vier kontrakte.
Die ondersoek sal ook beweerde “ernstige, onbehoorlike of onwettige optrede deur amptenare of werknemers” by die munisipaliteit ondersoek.