Speurders verbonde aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Bethelsdorp het ’n 55-jarige verdagte in hegtenis geneem op aanklag van poging tot moord, rig van ’n vuurwapen en dieremishandeling na ’n beweerde familietwis op Sondag 24 Julie 2022 in Salt Lake, Gqeberha.
Kaptein Sandra Janse Van Rensburg, polisiewoordvoerder in die Oos-Kaap, het bevestig dat daar beweer word dat die klaer Sondag om 14:30 tuis was toe ’n argument met ’n familielid uitgebreek het. Na die argument het die klaer na buite in die erf gegaan. Die klaer is deur die verdagte genader wat hom met ’n vuurwapen gedreig het. Die verdagte het na bewering ’n skoot op die klaer afgevuur, maar die skoot het hom gemis en sy hond in die nek getref. Die klaer is nie beseer nie. Die hond is na ’n veeartsenykliniek vir behandeling geneem.
Die verdagte is gearresteer en aangehou. Hy sal na verwagting vandag in die Gelvandale-landdroshof verskyn. Die gelisensieerde 9 mm-vuurwapen is ook by die verdagte gekonfiskeer.