Die Valke se ontvoeringstaakspan het Saterdag 23 Julie 2022 vyf verdagtes vir die beweerde ontvoering van ’n man in hegtenis geneem.
Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die span, wat gestig is om ontvoeringsake op te los, in kennis gestel is van ’n man wat op 13 Julie 2022 ontvoer is. Saterdagaand is ’n verdagte in Leandra, Gauteng, gearresteer omdat hy na bewering ’n losprys geëis het. Verdere ondersoeke het die polisie na ’n adres in Devon gelei waar drie verdagtes in hegtenis geneem is nadat hulle met die ontvoerde slagoffer gevind is. Die drietal is onmiddellik aangehou en die 25-jarige slagoffer is ongedeerd gered.
Verdere inligting het die span na ’n ander perseel in Leandra gelei waar nog ’n verdagte in hegtenis geneem is. Hy is in die besit van ’n vuurwapen, verskeie selfone asook simkaarte gevind.
’n Soektog by die eerste verdagte se gehuurde perseel in Leandra het gelei tot die ontdekking van ’n vuurwapen met ammunisie asook ’n aantal selfone en verskeie simkaarte.
Die vyf verdagtes, tussen die ouderdomme van 35 en 50 jaar oud, sal binnekort in die hof verskyn op aanklagte van ontvoering, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, asook afpersing.