Martin Viljoen, woordvoerder van die Universiteit Stellenbosch (US), het die afsterwe van een van die universiteit se studente, ’n inwoner van die Heemstede-dameskoshuis op Saterdag, 23 Julie 2022, bevestig.
“Die kampusgemeenskap is bedroef oor die verlies van ’n kosbare jong lewe,” sê dr. Choice Makhetha, Senior Direkteur: Studentesake. “Ons harte gaan uit na die familie in hierdie moeilike en pynlike tyd van verlies. Mag die familie krag vind in hierdie tydperk van rou en weet dat hulle deur die US-gemeenskap ondersteun word. Ons dink ook aan die student se vriende en mede-inwoners in Heemstede wat die ongeloof van wat gebeur het, moet hanteer.”
Personeel van die nooddiens ER24 en die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling het Saterdagaand berading aan studente in die koshuis gebied en sal voortgaan met ondersteuning in die komende dae – ook aan die koshuispersoneel.
Die Universiteit was ook met die familie van die student in aanraking.
“Ek moedig enige student wat berading benodig om met die Universiteit se 24-uur nooddiens by 010 205 3032 / 082 557 0880 na ure en 021 808 4994 gedurende werksure, te skakel,” sê Makhetha.
“Ek doen ook ’n beroep op ons kampusgemeenskap om aan die studente se familie en vriende ruimte en tyd toe te laat om hul verlies te verwerk.”
Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, het aan AfriNuus bevestig dat ’n geregtelike doodsondersoek van stapel gestuur is. Sekuriteitspersoneel het op die lyk van die persoon, wie se identiteit nog weerhou word, afgekom.
Die oorsaak van die vroulike student se dood word ondersoek.