Die Sentrale-Universiteit vir Tegnologie (SUT) in Bloemfontein het bevestig dat ’n student Saterdagoggend na bewering deur ’n man verkrag is.
Luidens ’n verklaring deur die universiteit, is die bestuur van ’n beweerde voorval van verkragting van ’n student Saterdagoggend in kennis gestel.
Die vermeende oortreder is intussen in hegtenis geneem en die student ontvang die nodige sielkundige ondersteuning deur die SUT-welstandsentrum.
“Die Universiteit beskou hierdie ongelukkige en betreurenswaardige voorval as ’n ernstige ‘maatskaplike siekte’ in hierdie land wat ’n beroep op ons almal doen om te besin oor wat ons as ’n kollektief kan doen om hierdie uitdagings wat ons samelewing in die gesig staar, aan te spreek. SUT-bestuur werk nou saam met verskeie belanghebbendes om spesifieke aksies te bepaal wat daarop gemik is om hierdie maatskaplike siekte aan te spreek.”
“Ons vroulike studente is daarop geregtig om vryhede te geniet wat in ons Grondwet verskans is. Hulle is geregtig op die beskerming van hierdie regte,” het waarnemende visekanselier, prof. Alfred Ngowi, gesê. “Hulle het ’n wettige aanspraak om vreedsaam op straat te wees vanaf hul koshuise tot by die kampus, en om die vrede en rustigheid van hul omgewing te geniet sonder die vrees, besorgdheid en onsekerheid wat voortdurend die kwaliteit van hul lewens verminder.”
In ’n afsonderlike verklaring het luitenant-kolonel Thabo Covane, polisiewoordvoerder in die Vrystaat, bevestig dat ’n 29-jarige man deur die Mangaung-polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe in hegtenis geneem is.
Volgens ’n verslag het die 21-jarige vroulike slagoffer en haar vriende ’n taverne in Bloemside besoek. Toe die taverne gesluit het, het hulle na ’n vriend se huis gegaan waar hulle verder in die vroeë oggendure van Saterdag gekuier het.
Die klaagster beweer sy het aan die slaap geraak en om 05:35 wakker geword met ’n mansvriend bo-op haar. Hy het na bewering ’n kondoom aangehad. Haar vriende het beweer hulle het gesien hoe hy haar verkrag.
Die verdagte is in hegtenis geneem en sal Dinsdag 26 Julie in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.