Nomthetheleli Mene, Oos-Kaapse polisiekommissaris, het haar skok uitgespreek oor die tragiese dood van ’n sesjarige seun in Gqeberha.
Daar word beweer dat ’n 33-jarige man homself op Maandag 25 Julie 2022 om 13:00 by die Swartkops-polisiestasie oorgegee het vir die beweerde moord op sy eks-meisie se seun, Thabang Klaas.
“Volgens polisie-inligting het die verdagte op Vrydag 22 Julie 2022 die kind uit sy ouma se huis in New Brighton geneem en in die bosse tussen Mathys Grounds en Wells Estate in Swartkops ingegaan waar hy hom na bewering verwurg het,” sê provinsiale polisiewoordvoerder, Priscilla Naidu.
Die liggaam van die kind is op 25 Julie 2022 in ’n voetpaadjie in die bosse gevind.
Die verdagte is aangehou op ’n aanklag van moord en die motief vir die moord is vermoedelik wraak teen die eks-meisie. Die ondersoek duur voort en hy sal na verwagting Woensdag in die Gqeberha-landdroshof verskyn.
Mene het haar medelye met die familie van die oorlede kind uitgespreek en bygevoeg dat kinders beskerm moet word teen mishandeling en geweld in die hande van diegene na wie hulle opkyk.