’n Voormalige polisiekonstabel, Teboho Sekonyela (57), wat tien jaar tronkstraf uitgedien het nadat hy sy meisie vermoor het, en laasweek na bewering sy vrou ook vermoor het, is aan ’n tou in ’n boom gevind nadat hy van die polisie gevlug het.
Nadat bure bekommerd geraak het toe hulle nie die wyle Nomathemba Sekonyela (die slagoffer) vir ’n lang tydperk gesien het nie, en hulle haar sedert 22 Julie 2022 op haar selfoon probeer bel het maar sy nie opgespoor kon word nie, is die voorval by die Winburg-polisiestasie in die Vrystaat aangemeld.
Kaptein Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder in die Vrystaat, het aan AfriNuus bevestig dat lede verbonde aan die Winburg-polisiestasie op Sondag 24 Julie 2022 om 15:45 ’n telefoonoproep ontvang het van een van die bure van ’n egpaar wat by ’n huis in Voortrekkerstraat in Winburg bly. Polisielede het dadelik gereageer en gevind dat alle gordyne, deure en vensters toe was.
Die deur is oopgedwing waar hulle ’n grusame ontdekking gemaak het van ’n vrou se lyk wat bedek was met ’n kombers. Sy het wurgmerke aan haar nek en arms gehad. Haar man was nêrens te vinde nie.
Die oorledene is geïdentifiseer as wyle Nomathemba Sekonyela (41).
’n Saak van moord is vir verdere ondersoek geopen, waarna die Winburg-polisie op die uitkyk was vir haar man, die voormalige polisiekonstabel Teboho Sekonyela.
Dit het aan die lig gekom dat die oud-polisieman uit die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) geskors is, omdat hy sy meisie noodlottig geskiet het. Hy is tot tien jaar tronkstraf gevonnis. Na sy vonnis het hy met sy vrou getrou, maar haar ook na bewering vermoor.
Op Maandag 25 Julie 2022 het die SAPD ’n wenk ontvang oor waar Teboho Sekonyela (die verdagte) in ’n blou Volkswagen Polo op die N1-pad langs Ventersburg gereis het.
Die SAPD-lid het ’n polisievoertuig gery toe hy die verdagte begin agtervolg het. Toe die verdagte die teenwoordigheid van die polisie opmerk, het hy met ’n hoë spoed weggejaag.
Die SAPD-lid het bystand versoek en die N1-pad is deur die polisie versper, terwyl hy na Winburg gereis het.
Die verdagte het beheer oor sy voertuig sowat vyf kilometer voor Winburg op die ou Brandfortpad verloor. Sy voertuig het in die berggebied by Bellspas gerol.
Die Stasiebevelvoerder van Winburg, kaptein Landman, het SAPD-lede versoek om die bosagtige gebied af te sluit, sodat die verdagte opgespoor kan word.
Toe lede by sy voertuig aankom was hy nie daar nie en die soektog het voortgeduur. Hy is gevind waar hy aan ’n boom in hierdie bergagtige gebied gehang het en hy is deur personeel van die mediese nooddienste op die toneel dood verklaar.