Konstabel Thenjiswa Ngcobo, polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal, het bevestig dat die Inanda-polisie op Dinsdag 26 Julie 2022 om 14:00 na Amaoti in Phoenix uitgeroep is waar die gemeenskap glo ’n 25-jarige vrou aangekeer het wat daarvan verdink word dat sy haar baba vermoor het. Met aankoms op die toneel het die polisie vasgestel dat die gemeenskap die vrou gedwing het om die vlak graf op te grawe waar die oorblyfsels van haar baba begrawe is.
Die vrou is in hegtenis geneem en aangehou by die Inanda-polisiestasie waar sy van verberging van geboorte aangekla is, terwyl die liggaam van die baba na ’n plaaslike lykshuis vervoer is. Sy sal op Donderdag, 28 Julie 2022, voor die Ntuzuma-landdroshof verskyn.
Daar word beweer dat die vrou swanger was en toe sy sonder ’n baba gevind is, het die bure agterdogtig geraak en haar ondervra. Sy het later aan bure gesê die kind is dood.