Aafje Botma, polisiewoordvoerder in Noordwes, het bevestig dat die dood van ’n 20-jarige student van die Noordwes-Universiteit (NWU), Mmathabo Cornelia Sesinyi, ondersoek word nadat sy Dinsdag dood in haar kamer gevind is.
Dit is die tweede keer in twee maande wat ’n student van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Mafikeng-kampus dood in haar koshuiskamer aangetref is.
Die Noordwes-Universiteit het hul medelye op sosiale media gedeel.
Louis Jacobs, woordvoerder van die universiteit, het in ’n verklaring bevestig dat die 20-jarige student op die middag van Dinsdag, 26 Julie 2022, dood in haar koshuiskamer aangetref is.
“Die student se naasbestaandes is in kennis gestel, en sommige familielede was reeds op die toneel waar hulle deur lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) vergesel is.”
Wyle Mmathabo Cornelia Sesinyi, ’n eerstejaar BA-Kommunikasiestudent, was ’n inwoner by die GaTholo-koshuis wat nie op die kampus geleë is nie.
Die SAPD het ’n geregtelike doodsondersoek van stapel gestuur om die oorsaak van die jong vrou se dood te bepaal.
Meer inligting is nog nie bekend nie.