Majola Nkohli, polisiewoordvoerder in die Oos-Kaap, het aan AfriNuus bevestig dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ’n voorval ondersoek, nadat ’n saak van verkragting op Maandag, 25 Julie 2022, geopen is. Dit volg nadat ’n 16-jarige tiener na bewering verkrag is toe hy verlede maand in een van die inisiasieskole, in Oos-Londen, die ontgroeningsproses ondergaan het. Hy is na die voorval in die hospitaal opgeneem.
DispatchLive berig dat ses mans na bewering die graad 10-leerling bendeverkrag het.
“Omstandighede rondom die voorval vorm deel van die ondersoek. Die polisie is besig met verdere ondersoek, voordat enige arrestasie gemaak kan word,” het Nkohli bygevoeg.
Die winter-inisiasieseisoen is ’n kulturele gebeurtenis. Die doel is vir seuns om in mans omskep te word. Vir ’n maand tot ses weke lank word Xhosa-seuns van 13 tot 16 jaar eenkant afgesonder. Hier word hulle geleer van en voorberei vir die grootmenslewe wat hulle hierna sal betree. Besnydenis is een van die rituele wat uitgevoer word.
Nege mans is reeds vanaf die begin van die winter-inisiasieseisoen tot 17 Junie by inisiasieskole in die Oos-Kaap dood. Swak higiëne wat verband hou met die manlike besnydenis, die verwydering van die menslike penis se voorhuid, by onwettige inisiasieskole is van die hoofredes.