’n Klopjag deur lede verbonde aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se narkotika-eenheid het gelei tot die ontdekking van ’n dwelmvervaardigingslaboratorium en die inhegtenisneming van ’n 44-jarige vrou in Florida, Gauteng, op Dinsdag 26 Julie 2022.
Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder in Gauteng, het dié voorval aan AfriNuus bevestig.
Die narkota-eenheid het ’n wenk opgevolg oor ’n vrou wat daarvan verdink word dat sy dwelms vervaardig het. Tydens ’n klopjag het die span toerusting wat gebruik word in die vervaardiging van dwelms gevind.
Gedroogde psilosibien (magic mushrooms), kapsules met psilosibien-poeier, tik en dagga-olie is ook in die verdagte se perseel gevind. Die waarde van die items is meer as R1,5 miljoen.
Die verdagte sal op Donderdag, 28 Julie 2022, in die Roodepoort-landdroshof verskyn op aanklag van die vervaardiging, handel en besit van dwelms.
In ’n onverwante klopjag het die span twee verdagtes in hegtenis geneem nadat daar op 22 Julie 2022 2kg tik en 300g heroïen ter waarde van ongeveer R1 miljoen by die O.R. Tambo Internasionale Lughawe ontdek is.
Hierdie sukses is voorafgegaan deur die inhegtenisneming van ’n verdagte vir die beweerde handel in dwelms deur ’n kasregister by ’n winkel in die Broadacres-winkelsentrum op 8 Julie 2022. Die verdagte is ook aangekla vir die besit en handel in dagga en daar is beslag gelê op die kasregister.